– Bianca Henning, ProAgri
Agrico is ’n welbekende naam vir boere regoor suidelike Afrika. ‘n Familiesaak met ‘n passie vir landbou en boere en ‘n wil om die mooi land van ons ‘n beter plek vir almal te maak – dit is die strewe van Agrico. Agrico het sedert 1896 gegroei tot die grootste verskaffer van besproeiingstoerusting in Suider-Afrika. Wanneer jy vir Walter Andrag, besturende direkteur van Agrico, meer oor die onderneming vra, is daar ‘n opgewondenheid in sy blou oë.
Walter sê: “Met ‘n ryk geskiedenis van meer as 100 jaar in die bedryf plaas boere hulle vertroue in die Agrico-handelsnaam. Lojaliteit word verdien as jy oor ‘n lang tyd ‘n goeie diens lewer en goeie waarde vir geld bied. Ons sien Agrico as ‘n betroubare, stabiele langtermynvennoot in besproeiing.”
Saam met Walter aan die stuur van sake is sy neef, Roland Andrag, die tegniese direkteur van Agrico. Roland is verantwoordelik vir produkontwerp, inligtingstegnologie, vervaardiging en verspreiding. Roland vertel dat dit Agrico se doelwit is om ‘n optimale besproeiingsoplossing aan boere te bied.
“Om dit te kan doen, moet jy jouself in die skoene van die boer sit en optree asof dit jou geld en jou plaas is. Dit is hoe jy eienaarskap dwarsdeur die voorsieningsketting vestig”, meen Roland. “Agrico se rol is om naby aan die mark en ons klante te beweeg sodat ons die optimale oplossings aan ons boere kan bied.”
Walter voeg by: “Om optimaal te boer beteken vir elke boer iets anders; dit hang af van sy plaas, die topografie, die gewasse wat verbou word, die hoeveelheid water wat hy tot sy beskikking het, ensovoorts.
“Dit is ons werk om boere te help om water, energie en kapitaal optimaal aan te wend om winsgewend te boer. Alles wat ons by Agrico doen gaan oor die klant en maniere om sy lewe en besigheid te verbeter en sy belange eerste te stel.”
Oud en jonk: die passievolle span agter Agrico se sukses
Om ‘n suksesvolle besproeiingsbesigheid te bedryf in ‘n tyd waar veranderende klimaatstoestande ‘n werklikheid is, vereis aanhoudende innovasie. Dít is slegs moontlik met ‘n span geesdriftige kundiges wat hul energie hieraan spandeer.
Roland vertel oor die Agrico-span: “Wat op die oomblik vir my by Agrico uitstaan, is die energie en opwinding van die span, en die manier waarop hulle en die maatskappy saam groei en vooruitgaan.”
Met drie fabrieke en meer as 35 takke regoor Suider-Afrika, bestaan die Agrico-span uit honderde lede met hope passie. Binne die maatskappy se deelnemende en oopdeur-bestuurstyl word elkeen aangemoedig om verantwoordelikheid te neem, en om hulself en hul talente uit te leef.
‘n Groot span kundiges is betrokke by elke projek: besproeiingsontwerpers besoek die plase en is in direkte kontak met die klant; meganiese-, elektroniese- en bedryfsingenieurs behartig die navorsing en ontwerp van produkte, ‘n vervaardigingspan lei produksie, en interne stelselbestuurders sien om na die prosesvloeie en integrasie, en hou sodoende die trein op sy spoor.
“Ons span het redelik gegroei die afgelope jaar. Ons het ‘n lekker jong span tegniese persone wat nuwe denke en ‘n sekere geesdrif na die onderneming bring, gepaard met persone met dekades se ervaring in al die verskeie aspekte van besproeiing,” sê Roland.
Walter brei uit oor die impak van so ‘n dinamiese span: “Sterker ontwerpsvaardighede en kundigheid om beter produkte te ontwikkel en te vervaardig, bied ‘n groter voordeel vir die boer. Ek vertrou dat dit vir ons ‘n mededingende voordeel bied.”