Libuyile Farming Services: Waar tradisie, tegnologie en gemeenskapsontwikkeling ontmoet

deur Natasha Pretorius

Op die plaas Voorspoed, teenaan die Krugerwildtuin, is dit die samewerking tussen Libuyile Farming Services, die gemeenskap en Agrico wat verseker dat die 4 500 ha suikerriet op die plaas hoog staan vir nog ’n suksesvolle oes.

Aan die stuur van die produksie staan Nico Nel. Met 31 jaar se ervaring agter die blad, lei hy vandag ’n span van vier plaasbestuurders. Sy taak is oorkoepelend en strategies: van besproeiingsbestuur en variëteitseleksie tot die suksesvolle uitvoering van plantaksies.

Elke druppel tel hier

Die Komatipoort-area se klimaat is ideaal vir suikerriet, maar die reënval skiet dikwels tekort. Met langtermyn gemiddelde van onder 500 mm per jaar vir ’n gewas wat minstens 1 200 mm water benodig, is besproeiing die lewensbloed van die plaas.

Omdat hul aan die onderpunt van die Krokodilsisteem lê, is water nie altyd gereeld beskikbaar nie. Ongeveer 51% van die plaas word besproei met spilpunte, maar baie hiervan is reeds ouer as 30 jaar. Libuyile is dus besig met grootskaalse modernisering om waterbenutting te verbeter, en daarvoor is drupbesproeiing die optimale oplossing.

Met die Agrico-span se hulp is boerdery besig om ouer stelsels, soos sleeptoue en verouderde spilpunte, stelselmatig uit te faseer en te vervang met kleiner spilpunte en ondergrondse drupstelsels.

Hierdie moderne besproeiingstelsel bied vele voordele. Ondergrondse drupsisteme verseker dat kunsmis, chemiese toediening en water presies by die plant se wortelstelsel gelewer word. Nog ‘n voordeel van ondergrondse is kostebesparing rondom arbeid, omdat ondergrondse pype nie tydens kaptyd in- en uitgehaal hoef te word nie. Laastens word water dan ook nie onnodig op onkruid of oop grond gemors nie.

Nico beklemtoon dat suksesvolle waterbestuur ’n fyn balans verg: “Te min water gee ’n opbrengsverlies, maar te veel water is net so gevaarlik. Dit dryf jou energiekoste op, spoel duur voedingstowwe uit die grondprofiel uit, en skep ’n suurstoflose (anaërobiese) omgewing waar die wortels verklamp en die plant gaan stilstaan.”

Die sukses van suikerriet lê in tonne en sukrose

Suikerriet is ’n meerjarige gewas wat Libuyile vir langer as 10 jaar in die grond probeer hou, mits meganiese skade beperk word. Die grond op die plaas is hoofsaaklik diep, goeddeurlugte Shortland-gronde, ideaal vir wortelontwikkeling. Om verdigtingslae, wat deur swaar masjinerie veroorsaak word, te breek, word die lande ná elke oes seisoenaal omgedop.

Planttyd begin gewoonlik teen die einde van Januarie om die ergste hitte van Desember en middel Januarie te vermy. Die riet groei vir sowat 12 maande voordat dit gekap word. Indien daar vroeër in die jaar geplant word, staan die riet as “oordragriet” bekend en word dit tussen 13 en 14 maande geoes.

Maar hoe meet ’n mens sukses? Dit gaan nie net oor hoe hoog die riet staan nie maar oor die tonne per hektaar wat jy kan afhaal sowel as die herwinbare waarde, oftewel sukrose-persentasie. Dit is die werklike hoeveelheid suiker wat die meul uit die riet kan onttrek. By Libuyile mik hulle vir ’n suikersuiwerheid van 80% en hoër, wat die ontgunningsproses by die meul aansienlik vergemaklik.

Agrico bring tegnologie na die lande

Libuyile maak staat op sterk vennootskappe. Een so ’n vennoot is Agrico Komatipoort.

Nico is vol lof vir die diens wat hulle van Agrico en hul verteenwoordiger, Francois du Plessis, kry: “Hulle sit die kliënt eerste en loop regtig daardie ekstra myl om enige krisis so vinnig moontlik op te los.”

Francois du Plessis verduidelik wat tans op die plaas gebeur waar ’n verouderde 30 jaar oue spilpunt plek maak vir ’n moderne dripstelsel.

Hulle is besig om twee beheerkamers op te rig, waarvan een ’n blok van 74 ha sal diens. Die kamer bevat twee sewe-bank Apollo-filters wat tussen sowat 450 en 500 kubieke meter water per uur kan hanteer.

Op ’n ander gedeelte van die plaas is daar reeds ’n pomphuis gebou wat ’n stelsel van 60 ha beheer en ontwerp is om in die toekoms na 200 ha uit te brei.

Die bestaande pomphuis het drie hidrouliese krane (wat die waterdruk wat van die spilpunte afkom van 6 bar afbring na ’n veilige 4 bar vir drip) laat die span toe om sowat 30 ha op ’n slag te besproei.

In die nuwe pompkamer is daar reeds vier 10 000-liter chemiese tenks (totaal 40 000 liter) geïnstalleer vir die akkurate toediening van vloeibare kunsmis. Dripperlyne word elke 1,9 meter geïnstalleer met Netafim PC-druppers wat 1,2 tot 1,6 liter water per uur lewer, sodat daar sowat 7,2 mm water per dag neergelê kan word oor ’n ses-uur-siklus.

Maar Libuyile se storie gaan oor veel meer as net suikerriet, dit gaan oor die opbou van ’n gemeenskap.

’n Erfenis van herstel en bemagtiging

Die geskiedenis van hierdie grond strek terug na die 1960’s toe dit in die besit van die ou Transvaal Suiker Beperk (TSB) en ’n paar private eienaars was. As gevolg van die regering se grondrestitusieproses is die grond, wat uit sewe plase bestaan, uitgekoop en aan die begunstigdes oorhandig.

Vandag staan hierdie landerye onder die Ingwenyama Simhulu Trust (IST). Libuyile Farming Services is aangewys as die oorkoepelende bestuursmaatskappy vir die begunstigdes.

“Ons samewerking met die begunstigdes gaan oor twee dinge: om ’n volhoubare voorraad suikerriet aan die streek se twee suikermeulens te voorsien, en om werklike vaardighede oor te dra,” verduidelik Nico.

Alle nuwe aanstellings op die plaas word uit die begunstigde stam gemaak en op hierdie manier betrek hulle die plaaslike gemeenskap, help bou aan vaardighede en hou die ekonomie aan die gang.

Met ’n goeie balans tussen gemeenskapsbemagtiging, slim landboukundige praktyke en uitstekende besproeiingstegnologie, wys Libuyile Farming Services en Nico Nel hoe die moderne Suid-Afrikaanse suikerrietbedryf nie net kan oorleef nie, maar ook kan floreer.

Related articles

Feeding the nation one Agrico pivot at a time: Seunkie Maseko and Moosa Ngwenya

For Moosa Ngwenya and Seunkie Maseko, farming is about more than just growing crops. It is about the broader responsibility of feeding a nation and helping build a country.

“We have a country to feed, and we have a country to build,” says Moosa.

“As farmers, you wake up in the morning, and you don’t only think about the crops, but also about the people you have to feed. It’s all about food security. If we make some profit, we will be looking into replacing some of our older pivots with Agrico pivots,” he adds.

Read More »
Uncategorized

Pivot design 101: A framework for getting it right

Drawing on Agrico’s extensive experience in irrigation design, this article explores the key considerations behind creating efficient, reliable irrigation systems, from water availability and crop requirements to pivot sizing, energy consumption and sprinkler selection.

Read More »
Uncategorized

Absa and Agrico join forces to make pivot finance more accessible

Absa AgriBusiness has partnered exclusively with Agrico to offer qualifying clients preferential finance on new pivot irrigation systems, with interest rates from as low as prime less 2%. The partnership provides farmers with flexible repayment structures, faster turnaround times and access to Agrico’s extensive irrigation service network across Southern Africa.

Read More »