Geen staantyd wanneer dit saakmaak nie
Nog ’n belangrike voordeel van die T-reeks is die hersetstelsel. JP se vorige ripper het van breekboute gebruik gemaak. Wanneer ’n breekbout breek, staan die hele stelsel stil totdat herstelwerk gedoen kan word.
“My vorige implement was vervaardig met ’n breekbout-tandemripper. Dit het die grond goed gebreek, maar wanneer ’n breekbout breek, staan die hele kombinasie, trekker en implement stil. Met ’n groot trekker wat miljoene rand werd is, kan ’n mens nie bekostig dat daardie kapitaal onproduktief staan nie.”
Die Agrico-hersetstelsel los hierdie probleem op deurdat die tand outomaties terugkeer na sy werkposisie nadat dit ’n hindernis in die land getref het.
Stabiel en presies
Hoewel JP aanvanklik bekommerd was oor hoe die groot sleepimplement agter die trekker sou hanteer, het die praktyk vinnig sy vrese besweer.
“Ek was effens bekommerd of die implement reguit agter die trekker sou bly. Maar die uitleg van die tande, die wydte van die implement en die lang disselboom sorg dat dit perfek in lyn bly.”
Volgens hom bly die implement selfs onder moeilike toestande presies agter die trekker. “Jy kry nie die gevoel dat die implement na die een of ander kant wil beweeg nie. Op al die hektare wat ons reeds bewerk het, het ons gesien hoe stabiel die implement werk.”
’n Belegging wat homself bewys
Vir Paul lê die waarde van die Agrico T-reeks nie net in sy tegnologie nie, maar in die ekonomiese impak wat dit vir boere bied.
“In Kruispan se geval was die bewerkingspraktyk reeds korrek. Wat Agrico bygevoeg het, was laer brandstofverbruik en beter benutting van kapitaal.”
Maar waar grondstruktuurprobleme voorkom, kan die voordele selfs groter wees.
“Wanneer daar verdigtingslae of chemiese horisonne in die grond is, kan hierdie tipe implement nie net insetkoste verminder nie, maar ook opbrengste verhoog. In sulke gevalle kan die implement homself baie vinnig terugbetaal.”
Vir JP is die bewys reeds sigbaar: “Met die huidige swak mielieprys help goeie opbrengste baie. Die eerste lande wat ons gestroop het, lewer bogemiddeld, wat vir ons baie positief is.”
Op die diep sandgronde van die Noord-Vrystaat bly die resep vir sukses eenvoudig: maak die grond oop, laat die wortels dieper groei en benut elke druppel water ten volle. Met die regte implement en die regte benadering word daardie potensiaal ontsluit… een hektaar op ’n slag.