Pluk die vrugte van spilpuntbesproeiing deur noukeurige beplanning en onderhoud

– Marietta Cronje, Grethe Bestbier & Johan Myburgh

Spilpunte bied ‘n uitstekende oplossing om groot areas effektief te besproei deur bestuur te vergemaklik, waterverliese te beperk, en terselfdertyds energie verbruik te optimaliseer. Om te verseker dat die investering in só stelsel vir jou help om winsgewend te boer is van kardinale belang en verg ordentlike beplanning, installasie en onderhoud. In die verband kan die advies van ‘n gekwalifiseerde besproeiingsontwerper ‘n deurslaggewende rol speel, meen Johan Myburgh, hoof meganiese ingenieur by Agrico.

Opmeting: Doen jou huiswerk

“Ontwerpers bou ‘n langtermyn verhouding met produsente om hul unieke behoeftes te verstaan, en so pasgemaakte besproeiingstelsels te lewer wat opbrengste verhoog. ‘n Goeie ontwerper skep stelsels wat energie- en waterverbruik optimeer, die installasie proses simplifiseer en sukses verseker,” verduidelik Johan. 

Voor ‘n ontwerper kan wegspring, moet ‘n deeglike opmeting van die plaas voltooi word. Hierdie stuk huiswerk beïnvloed elke deel van die stelsel se ontwerp, want besproeiing is selde ‘n “one-size-fits-all”. Kyk na die einddoel voor jy begin met die ontwikkeling, meen Johan, sodat jy nie later pype, pompe, kleppe, ens. moet verander nie.

“Die ontwerper maak ‘n gedetailleerde assessering van die plaas en beoordeel die geskiktheid daarvan vir besproeiing. Ons kies die beste tipe besproeiingstelsel gebaseer op jou gewas, klimaat, grond-tipe, bron van water, energie en topografie,” sê Johan. 

‘n Waterbron om vanuit te besproei

Voor die produsent se besproeiingsreis kan afskop, moet die plaas se waterbron geassesseer word. Die ontwerper moet vasstel of daar genoeg water beskikbaar is om die tipe gewas wat verbou word, te besproei, en waar hierdie water se bron geleë is (bv. ‘n opvangdam of boorgatte) . Dit is ook belangrik om te let dat die waterbehoeftes van verskillende gewasse in verskillende gebiede verskil. Waar (byvoorbeeld) ‘n 8 mm/24 uur spuitpakket in sekere areas voldoende is vir ‘n gewas, kan dieselfde gewas meer water benodig in ‘n ander area, en is ‘n 14 mm/24 uur spuitpakket meer gepas. 

‘n Besproeiingsontwerper kan in die verband adviseer deur te kyk na die area se evapotranspirasiekoers, die hoeveelheid water tot beskikking, die gewas se behoeftes, die grond-tipe en vele ander faktore.

Die kwessie van energie

Water is nie die enigste beperkte hulpbron wat ‘n rol speel nie. Energie is ‘n sleutelarea van kommer vir klein- en grootskaalse plase. Om ‘n stelsel, oud of nuut, se energieverbruik te verlaag, is een van ‘n ontwerper se hoogste prioriteite.  

Energieverbruik is die produk van die stelsel se druk en die vloei. Deur die die totale druk van die stelsel te verminder, word energieverbruik verlaag. Die groot energieverbruiker in meeste spilpuntstelsels is die pompe se motors. Dit is belangrik om energie effektief te benut deur nie meer water te pomp as wat benodig word nie en deur nie onnodige druk te lewer nie. Tegnologie wat energiekoste op spilpunte help bespaar is Variable Speed Drives (VSD’s) en GPS, wat jou toelaat om komponente van jou stelsels te monitor om energiebesparing te verhoog.

In die gesprek rondom energie, moet daar natuurlik ook rekening gehou word met beurtkrag en die stygende koste van energie. Sonpanele bied ‘n alternatief, maar is nie altyd ‘n eenvoudige oplossing nie. Meeste besproeiingstelsels moet langer werk as die beskikbare son-ure per dag en dus help die sonstelsel net om die energie koste te verminder sonder om ‘n totale energie oplossing te bied.

Heelwat stelsels maak van kragopwekkers gebruik om aan te vul waar die sonkragstelsels, of Eskom, kortkom of totaal ontbreek – ‘n aansienlike uitgawe. In sommige gevalle kan die som wel klop indien die besproeiingsure per jaar min is en binne ‘n kort periode val.  Dit is dus belangrik om ten opsigte van ‘n stelsel saam met ‘n besproeiingsontwerper somme te maak.  In baie gevalle is ‘n hibriede stelsel wat van beide beskikbare son-energie en Eskom krag gebruik maak, ‘n goeie oplossing. En soms sal jy vind dat dit selfs die moeite werd kan wees om meer te betaal vir ‘n stelsel en in die langtermyn energiekostes te bespaar!

Die landskap: Topografie en grondtipe

Topografie speel ‘n belangrike rol in die ontwerpsproses. Grond met steil hellings bied unieke uitdagings. Torings kan op ‘n ongelyke terrein meganiese spanning ervaar wat tot stelselprobleme kan lei. 

Die topografie beinvloed ook die druk wat benodig word om water vanaf die waterbron tot by die spilpunt te vervoer. ‘n Spilpunt wat hoog geleë is relatief tot sy waterbron, benodig meer druk om die water tot by die masjien te pomp, wat lei tot ‘n hoër energieverbruik. ‘n Goeie ontwerper sal hierdie uitdaging kan navigeer, deur byvoorbeeld VSDs (“variable speed drives”) en GPS te benut. 

Moderne beheersagteware soos Agrico Web Control beskik oor GPS-funksionaliteit, wat veral nuttig is wanneer dit op plase met hoogteverskille gebruik word. GPS word gebruik om die presiese posisie van die laaste toring van ‘n spilpunt te bepaal en daarmee saam kan die druk aan die einde van elke spilpunt monitor en beheer word. Die spoed van die motors en pompe word aangepas met VSDs om op enige oomblik aan elke spilpunt se presiese behoeftes te voldoen, soos die torings oor die terrein beweeg.

Verskillende grondtipes beïnvloed ook ‘n besproeiingsontwerp, aangesien elke soort grond se eie waterretensievermoë het. Grond met ‘n hoë klei-inhoud bied stadige infiltrasie en ‘n hoë waterretensievermoë, wat lei tot afloop en waterverliese. In sulke gevalle, moet die tipe spuit aangepas word om groter diameter te benat. Alternatiewelik, kan die toedieningstempo verlaag word deur die spuitpakket te verander. Sand met baie min klei het weer ‘n baie hoë infiltrasie tempo en ‘n hoë toedieningstempo kan lei daartoe dat water vinnig deurloog en verlore gaan.

Die effek van verdamping en windverliese is ook belangrik. Statiese spuite gee fyner druppels wat meer vatbaar is vir wind en verdamping. Ander, meer moderne spuite gee weer groter druppels wat minder vatbaar is vir verdamping en wind, maar as die druppels weer té groot word kan dit grondkompaksie veroorsaak. LEPA (“low energy precision application”) spuite sal min tot geen wind verliese hê, maar is nie vir alle grondtoestande en gewasse gepas nie. Dit is dus belangrik om volgens behoefte ‘n goeie middeweg te vind. 

Die regte masjienstruktuur

Een van die prominente fisiese komponente van ‘n spilpuntstelsel, is die struktuur wat die torings konnekteer en waar deur water vloei na die spilpunt se uitlate. Dit is die ontwerper se werk om die korrekte konfigurasies van spanlengtes en pypdiameters bepaal. 

Pypdiameters wat te klein is, kan onnodige wrywing in die pype veroorsaak . Afhangende van die spilpunt se lengte en spuitpakket grootte, vervaardig Agrico spilpunte met ‘n 194 mm pyp diameter, gevolg deur 165 mm,  127 mm en laastens 101 mm namate die vloei afneem. Dit is belangrik om ‘n balans te tref tussen die kapitale uitgawe van ‘n groter pyp diameter en die lopende koste van ‘n kleiner pyp seleksie wat meer wrywing bied, en dus ook meer energie verg. 

Lewering, installasie en oprigting

Installasie van ‘n spilpuntstelsel behels veel meer as die oprig van ‘n struktuur.  Slote moet gegrawe word, elektriese kabels en pyplyne moet gelê word, pompkamers moet gebou en toegerus word, en vele meer. Foute tydens installasie veroorsaak krisisse wat later aangespreek moet word, soms nadat gewasse reeds geplant is.

Net so is die akkurate instelling en kalibrasie van elektroniese toestelle belangrik voor ‘n stelsel aan ‘n produsent oorgehandig word, om te verseker dat alle komponente foutloos integreer en kommunikeer. 

Gevorderde maatskappye soos Agrico, se besproeiingstelses en pomphuise, word toenemend as digitale 3D modelle ontwerp, om lewering en installasie te vergemaklik. 

“3D-modellering stel ons in staat om meer akkuraat te ontwerp, probleemareas vooraf te identifiseer en dit aan te spreek voordat die eerste deel verskeep word. Hierdie proses verseker dat ons besproeiingstelsels volgens akkurate spesifikasies en materiaallyste vervaardig word, en dat elke komponent perfek gelewer en geïnstalleer word,” verduidelik Johan. 

Na-verkope: Gereelde inspeksie en instandhouding

Daar is vele ander gebiede waar ‘n kenner ook waardevolle insette kan lewer, selfs na die installasie van die besproeiingstelsel. Goeie tegniese na-verkope diens voorsien ‘n produsent van die ondersteuning, advies en instandhouding wat hy benodig vir sy stelsel.

Daarby is gereelde inspeksies belangrik om potensiële probleme te identifiseer voor dit eskaleer:

  • Bewegende komponente soos torings, motors en ratkaste vereis gereelde smering en meganiese instandhouding. In die verband kan ‘n onderhoudskedule vanaf die vervaardigers verkry word. 
  • Drukreguleerders het ‘n beperkte leeftyd; daar word aanbeveel dat hulle na 10 000 ure van werking nagegaan moet word om onakkurate toediening en moontlike verhoogde energieverbruik te voorkom. 
  • Spuite moet gereeld geïnspekteer word vir skade, om te bepaal of die spuite die regte hoeveelheid water lewer om oor- of onderbesproeiing te verhoed. 
  • Vullis, sediment en minerale kan spuite verstop en om dit te voorkom, moet stelsels gereeld gespoel word. Agrico se spilpunte is toegerus met ‘n Autoflush klep, wat aan die begin en einde van elke besproeiinsiklus vir ongeveer 25 sekondes sediment of vullis uit die spilpunt spoel. Waar waterkwaliteit ‘n ernstige uitdaging is of die stelsel onder minimale toesig moet werk, word filters aanbeveel om verstoppings te voorkom.
  • Gereelde kalibrasie van besproeiingstoerusting is noodsaaklik om te verseker dat alle komponente foutloos met mekaar kommunikeer.  
  • Elektriese komponente soos skakelaars, beheerpanele en motors moet ook gereeld geïnspekteer word vir tekens van slytasie, korrosie of los verbindings. 

“Spilpuntbesproeiing het waarlik die potensiaal om ‘n boerdery te transformeer. Produsente wat kennersadvies in ag neem en ‘n proaktiewe benadering volg, sal verseker die talle voordele van spilpuntbesproeiing kan geniet,” sê Myburgh. En wanneer ‘n produsent vrae het, ‘n stelsel probleme gee of tegnologie verander, is die ontwerper die eerste punt van kontak vir die produsent. ‘n Goeie ontwerper verstaan dat dit oor meer as net die stelsel gaan, maar oor die verhouding.”  

Vir verdere navrae kan Johan Myburgh by Agrico gekontak word. Sel: +27 72 376 2149

Related articles

Agrico in ‘n seisoen van momentum

In hierdie ekslusiewe onderhoud gesels die Andrag-neefs, Walter en Roland, oor Agrico van vandag. Gebou op meer as ‘n eeu se ryk geskiedenis, doen Agrico alles behalwe stagneer. ‘n Groeiende taknetwerk, ‘n poel jong talent en aanhoudende investering in moderne vervaardiging, getuig daarvan. Lees meer oor hierdie twee bedryfsleiers se uitkyk op die landbou, en Agrico se seisoen van momentum!

Read More »