“Staan by jou klante deur moeilike tye”: Ystervrou Anita Smith aan die stuur van Agrico Wellington en Paarl

– Grethe Bestbier

Die prentjiemooi Kaapse Wynland is die tuiste van wêreldklas wynlandgoedere, kleurvolle vrugteboorde en welige landskappe. Dit is die toewyding van die plaaslike landbougemeenskap wat die Boland seisoen na seisoen omskep in ’n paradys, en Agrico is geëerd om hierdie produsente te ondersteun met die beste besproeiingsoplossings en -tegnologie.

Ons is verheug om aan te kondig dat Anita Smith bevorder is tot die nuwe bestuurder van Agrico Wellington en Agrico Paarl. Met meer as 30 jaar se ondervinding in die besproeiingsbedryf, ’n sterk agtergrond in administratiewe bestuur, en ’n passie vir kliëntediens, beloof Anita se leierskap ’n nuwe hoofstuk.

‘n Lewenspad toegewei aan die besproeiingsindustrie

In 1987, op die jong ouderdom van 20 jaar oud, het Anita Smith by Dripco (Edms) Bpk in Wellington begin werk. Daar het sy oor die volgende drie dekades kennis opgedoen oor die verskeie aspekte van besproeiing, vanaf aankope tot kwotering, klantediens en bestuur. Met ’n sterk administratiewe aanleg, was sy verantwoordelik vir modernisering in die besigheid deur onder andere hul stelsel oor te skakel vanaf ’n handgeskrewe na elektroniese boekhoudingstelsel. 

Met Dripco se verkoop aan Agrico later jare, was Anita reeds drie dekades lank in die bedryf. Op 1 November 2016 het haar reis by Agrico (Pty) Ltd begin. Vandag, met 37 jaar se ervaring agter haar naam, staan hierdie ystervrou gereed vir die volgende hoofstuk as bestuurder van Agrico Wellington en Paarl.

Om só lank in ’n soms genadelose bedryf te oorleef, verg ’n spesiale kombinasie van passie, deursettingsvermoë en ’n taai vel.  Die pad tot hier, vertel Anita, was opdraend by tye.

“Deur die jare het ek baie geleer. Daar was positiewe en negatiewe lesse. Dit was nie altyd maklik as vrou in ’n 80% mans wêreld nie, maar ek kies om altyd positief te bly,” sê Anita. 

Voortreflike klantediens is die sleutel tot sukses

Volgens Anita, is die sleutel tot ’n suksesvolle besproeiingsbesigheid om te onthou dat die klant jou eerste prioriteit is. Die raamwerk wat Agrico bied tesame met ’n toegewyde span, maak dit moontlik om voortreflike klantediens te lewer.

“Dit is belangrik om te luister na klante se behoeftes. Daar is een ding wat bo alles vir my ’n verskil gemaak het en dit is om eerlik te wees met jouself, kollegas asook jou klante,” meen Anita.

“Uit die aard van die saak is dit lekker as ’n klant in jou kantoor instap en jou bedank vir die ekstra myl wat jy vir hom gestap het.  Dit is lekker om te hoor as jou maatskappy se verteenwoordigers ’n plan beraam het wat werk, en dat jou produkte van goeie gehalte is.”

Anita glo dat ’n goeie verhouding met jou klante, jou sukses bepaal. Ook in die uitdagende tye moet die verhouding sterk genoeg wees om iets vir beide partye te beteken. In die landbougemeenskap voel die verskaffer die impak van swaar tye en ander uitdagings saam met die boer. Tog staan boer en diensverskaffer bymekaar, deur dik en dun.

“Daar is goeie kliënte wat deur die jare deur moeilike ekonomiese krisisse gewerk het, veral toe ons deur Covid getref is. Jy weet as oeste sleg of goed was, of as vloede skade aangerig het,” sê Anita. “As jy in moeilike tye bereid is om by jou klante te staan, kyk hulle ook na jou as dit met hulle goed gaan.”

Die nuutste in tegnologie en ontwerp om klante se boerderye te optimaliseer 

Die meerderheid van Paarl en Wellington se landbougronde is goed ontwikkel, maar deur nuwe tegnologie, verbeterde ontwerpe en volgehoue ondersteuning, kan Agrico waarde toevoeg tot die Boland se produsente. 

“Vandag se boere het baie uitdagings. Een van Agrico se groot fokuspunte is die effektiewe aanwending van energie. Ons probeer om hul besproeiing minder arbeidsintensief te maak, en om deur middel van afstandbeheer en slim ontwerpe, in al ons klante se behoeftes te voorsien.”

Daarby bied Agrico en Nedbank innoverende finansieringsoplossings om nuwe en bestaande produsente te ondersteun in hul boerderye. 

“Uitbreidings is duur, en boere is bang om hul kontantvloei te belemmer deur uit te brei.  Ek dink daar is ‘n fantastiese geleentheid om wel uitbreidings te doen met Nedbank se finansiering.”

Kontak Agrico Paarl en Agrico Wellington vir enige besproeiingsnavrae

Agrico beskik oor die ervaring en kundigheid om jou te assisteer in elke fase van jou besproeiingsreis. Kontak vir Anita by +27 83 232 4283 of anita.smith@agrico.co.za met enige vrae. 

Die volgende tegniese personeel staan ook gereed om jou te help:

PAARL                                                                                                           

Gerrie van Zyl 082 569 5269              

Gerhard Swart 082 896 2124           

 

WELLINGTON

Gielie Smith  083 232 4283

Roelof le Roux 083 458 7997

Jan Schoeman 076 280 4691

Wicus Willemse 071 603 4574

Related articles

Agrico in ‘n seisoen van momentum

In hierdie ekslusiewe onderhoud gesels die Andrag-neefs, Walter en Roland, oor Agrico van vandag. Gebou op meer as ‘n eeu se ryk geskiedenis, doen Agrico alles behalwe stagneer. ‘n Groeiende taknetwerk, ‘n poel jong talent en aanhoudende investering in moderne vervaardiging, getuig daarvan. Lees meer oor hierdie twee bedryfsleiers se uitkyk op die landbou, en Agrico se seisoen van momentum!

Read More »