– by Jaco Cilliers
In die Pandamatenga-distrik in noordelike Botswana wys Panda Potatoes hoe doeltreffende besproeiingstegnologie ’n boerdery kan omskep. Waar klimaat en grondtoestande uitdagings bied, vorm waterbestuur en betroubare Agrico-spilpunte die kern van hul suksesvolle aartappelproduksie. Deur beplanning en betroubare ondersteuning het Van Vuuren Holdings ’n boerdery geskep wat wys hoe besproeiing ’n sleutelrol kan speel in voedselsekerheid in selfs die mees afgeleë gebiede.
’n Onderneming wat groei saam met water
Volgens Fred van Vuuren, eienaar van Panda Potatoes, was dit die ontdekking van goeie ondergrondse water wat ses jaar gelede die deurslag gegee het om in aartappels te belê.
“Aartappels kort minstens 500 mm water in ’n seisoen. Sonder besproeiing is dit onmoontlik om hier volhoubaar te boer,” verduidelik hy. Boorgate voed die plaas se stelsels, en die water word met pompe na die lande gedra waar Agrico-spilpunte die lande besproei.
Panda Potatoes het met verskeie kultivars geëksperimenteer, maar Mondeor en Siffra het koning gekraai. Fred het vinnig besef dat diversifisering noodsaaklik is om die boerdery winsgewend te maak. Vandag produseer hulle nie net aartappels nie, maar ook droëlande sorghum, terwyl die spilpunte ’n sleutelrol speel in plantvoeding en gewasbeskerming.
Die rol van Agrico in Pandamatenga
Op die plaas staan reeds nege Agrico-spilpunte en nog twee is op pad, vertel plaasbestuurder Duard Malan. “Behalwe vir besproeiing, gebruik ons ook die spilpunte vir topbemesting en giftoediening. Korrelkunsmis word opgelos, deur doseringspompe ingespuit, en dan saam met die water via die spilpunte toegedien. Dit maak die proses baie doeltreffend.”
Wat vir produsente soos Duard gerusstel, is dat Agrico die meerderheid van komponente in-huis vervaardig, insluitend die gegalvaniseerde pype. Dit beteken dat bemesting en chemiese toediening deur die spilpunte kan plaasvind sonder om die spilpunt te beskadig, mits die pype ná gebruik behoorlik uitgespoel word.
“Die stelsels is robuust en die onderhoudskoste is baie laag. As ons wel ’n onderdeel nodig het, stuur Agrico Nylstroom dit vinnig, selfs al is ons byna 1 000 km weg,” sê hy.
Agrico het ‘n verbintenis om boere in die mees afgeleë gebiede van Afrika by te staan, en sodoende voedselsekerheid nie net in Botswana nie, maar in die hele streek, te versterk.
MC Pretorius van Agrico se Nylstroom-tak, beklemtoon dat die uitdagings in Pandamatenga uniek is. “Hier is geen elektrisiteit nie. Alles word met diesel kragopwekkers en sonkrag aangedryf. Boere wat goeie waterbronne het, moet besproeiingsinfrastruktuur installeer om winsgewend te wees. Ons sien dit as ons plig om stelsels te lewer wat betroubaar is en water teen lae energiekoste beskikbaar maak.”