Danksy mikrospuite is Endulini in beheer in die boorde

– Fredalette Uys, Landbouweekblad 

Met hande en oë in die boorde en ’n praktiese benadering tot boerdery is mikrospuite die vanselfsprekende besproeiingskeuse vir die Endulini-boerdery se sitrusboorde in die Oos-Kaap.

Terwyl drupbesproeiing ’n gewilde opsie vir sitrusboerderye is, is die regte besproeiingstelsel die een wat vir die spesifieke boer wérk. Vir die Endulini-boerdery van Pietie Ferreira in die Gamtoosvallei en die Sondagsriviervallei is die bestuurspraktyke wat met mikrobesproeiing gepaard gaan, die wenresep.

Verskeie boorde sitrus, waaronder nawels, valencias, suurlemoene en sagtesitrus, is in 2019 op een van hul plase, Lentelus, aangeplant en ’n mikrobesproeiingstelsel is daarvoor ontwerp. Voor die sitrusboerdery is hier met aartappels geboer. Volgens Johrik Barnard, areabestuurder van die boerdery, is een voordeel van die mikrobesproeiingstelsel dat alles van die heel begin af beplan is soos wat nodig is vir die boerdery.

Werkers beheer, meet en gaan die besproeiingstelsel daagliks met die hand na. “Dit is ’n maklike bestuurspraktyk om die span te stuur om vinnig deur die boorde te ry en te kyk of die mikrospuite loop en of die bome water kry soos dit moet.”

Op elk van die boerdery se plase is ook ’n toegewysde werker wat daagliks tot op ’n diepte van 60 cm boor om die grondvog te meet om te bepaal wanneer en hoeveel uur besproei moet word. “Dit is vir ons akkurater om dit só te doen omdat iets met die vogmeter kan skeefloop.”

Nog ’n werker gaan daagliks met ’n goed toegeruste Kubota of Gator-werktuig deur die besproeiingstelsel en kan vinnig herstelwerk doen. Johrik sê mikrospuite kan ’n groter area as druppers benat en bied goeie deurlugging.

“Sekere wateroplosbare kunsmis en wortelbehandeling vir ouer bome wat ons gebruik, kan nie deur druppers toegedien word nie, maar wel deur mikrospuite.”

 

Beplanning is die sleutel tot kostedoeltreffendheid

Suurlemoen- en sagteskil-kultivars word 6 m x 4 m uit mekaar geplant met twee mikrospuite wat 30-40 liter per uur lewer per boom. Die res van die sitruskultivars word 6 m x 3 m uit mekaar geplant met een mikrospuit wat 50 liter per uur lewer per boom. Die besproeiingsprogram word bepaal deur die grootte van die boompies, tipe grond, diepte van wortelsones en die seisoen. Die besproeiingstelsels word met die hand aan- en afgeskakel.

In Augustus word watertoediening aangepas en vermeerder vir blomvorming, met gemiddeld 200 liter per boom wat elke sesde dag op Lentelus toegedien word. Tydens die warmer maande van November tot Februarie word die toediening ook verhoog.

Agrico en Endulini stap die pad saam

Jaco van Niekerk, Agrico se takbestuurder vir Patensie en Kirkwood, was van meet af betrokke by die ontwerp van die hele besproeiingstelsel op Lentelus – van die pomphuis tot die mikrospuite in die boorde. Endulini se pad saam met Agrico het begin met die oprig van ’n spilpunt, waarna Jaco die besproeiing vir verskeie van die sitrusblokke herontwerp het. Tans is daar op elke plaas ’n blok of twee wat deur Jaco herontwerp is.

“Die uiteindelike doel is ’n goeie ontwerp sodat die neerslag eenvormig is,” sê hy. Volgens Johrik beskik Jaco oor die nodige kennis en hy weet presies waar wat in die stelsel is.

Hy bied altyd goeie raad waar nodig. Hy prys ook die Agrico-tak op Patensie wat altyd op die belangrikste tye die nodige in voorraad het, of moeite sal doen om dit te verkry.

Area perfek vir sitrus

Die Gamtoosvallei bied die ideale klimaatstoestande vir die aanplant van sitrus, met temperature wat nie uitermatig hoog of laag is nie, sê Johrik. “Die ligging is perfek, die grond is baie goed en die water is van die beste gehalte wat jy kán kry.”

Water uit die Kougadam is die lewensaar van die Gamtoosvallei. Droogtetoestande van 2018 tot 2023, met die dam wat in ’n stadium slegs 4% vol was, het boere genoop om water spaarsamig te gebruik. ’n Belangrike les was dat sitrusboorde baie beter vaar met minder water en dat daar voorheen eintlik oorbesproei is. Volgens Jaco is dit in die algemeen die grootste besproeiingsprobleem by alle gewasse.

“Die simptome van te veel en te min water lyk baie dieselfde, maar oorbesproeiing veroorsaak meer blywende skade aan bome as ’n bietjie droogte.”

Related articles

Van pasraam tot plaasgereed: ontdek hoe Agrico se HSD’s vervaardig word

Van pasraam tot plaasgereed: ontdek hoe Agrico se HSD’s in Suid-Afrika vervaardig word met plaaslike vakmanskap, gevorderde tegnologie en deeglike toetsing. Elke implement begin as ’n idee, word in detail ontwerp, vervaardig van kwaliteit staal, en saamgestel om optimale prestasie en duursaamheid te verseker. Agrico se plaaslike ingenieurs verstaan die uitdagings van Afrika-plase, wat beteken dat elke HSD nie net robuust en betroubaar is nie, maar ook die trots van plaaslike vervaardiging dra.

Read More »

Feature by feature: What sets the Agrico G3 centre pivot apart

Choosing the right centre pivot is about more than just moving water. It’s about finding a system that fits your land, your crops and the realities of farming conditions. The Agrico G3 centre pivot was developed with exactly this in mind. Let’s unpack the system feature by feature, showing how flexibility and strength come together to form a reliable irrigation solution.

Read More »

Danksy mikrospuite is Endulini in beheer in die boorde

Terwyl drupbesproeiing ’n gewilde opsie vir sitrusboerderye is, is die regte besproeiingstelsel die een wat vir die spesifieke boer wérk. Vir die Endulini-boerdery van Pietie Ferreira in die Gamtoosvallei en die Sondagsriviervallei is die bestuurspraktyke wat met mikrobesproeiing gepaard gaan, die wenresep.

Read More »

Panda Potatoes: Agrico se verbintenis tot Afrika se boere

In die Pandamatenga-distrik in noordelike Botswana wys Panda Potatoes hoe doeltreffende besproeiingstegnologie ’n boerdery kan omskep. Waar klimaat en grondtoestande uitdagings bied, vorm waterbestuur en betroubare Agrico-spilpunte die kern van hul suksesvolle aartappelproduksie.

Read More »