Wanneer jy ’n Agrico-implement deur jou lande sleep, wéét jy dit is ’n implement waarop jy kan staatmaak. Agter die robuuste raam en presiese werking, lê egter ’n vervaardigingsproses wat nét so indrukwekkend soos die groen masjien self is.
Elke implement word met sorg en gevorderde vakmanskap in Suid-Afrika gebou, sodat dit nie net ’n glimlag op jou gesig laat nie, maar jou ook trots laat voel om plaaslik te ondersteun.
Die pad na kwaliteit: Die produksieproses van die HSD630
Agrico se resep vir ware gehalte lê nie net in die eindproduk nie, maar in elke stap van vervaardiging.
Plaaslike ingenieurs het noue bande met ons boere, verstaan die uitdagings van grond wat bewerk moet word op Afrika se plase, en ontwerp daarvolgens. Hulle kan die veld self besoek, die skaal van die operasie sien, en die nodige aanpassings aan ontwerpe maak om die implement optimaal te laat funksioneer.
Elke Hoë Spoed Dis (HSD630) begin as ’n konsep. Agrico se span ingenieurs neem ’n idee, doen die nodige navorsing, en skep daaruit ‘n gedetaileerde ontwerp.
Hierdie navorsing dien as die grondslag vir die bou en toets van ’n prototipe, sodat enige moontlike probleme vroeg geïdentifiseer en opgelos word. Eers wanneer hierdie toets-model homself goed van sy taak kwyt, word volskaalse produksie afgeskop.
Die stappe van vervaardiging: Van rou materiaal tot groen masjien
Stap 1: Kwaliteit roumateriaal
Elke implement begin met plaaslik verkrygde staalbalke en -plate, gekies vir hul sterkte en geskiktheid vir uitdagende Afrika-omstandighede. Hierdie kwaliteit staal dra by tot ’n sterker raamwerk en ’n implement wat langer hou.
Stap 2: Verwerking van roumateriaal
Die staal word gesny, gedraai en gebuig met behulp van gevorderde CNC-masjiene en lasersnytegnologie. Die gebruik van die nuutste tegnologie in vervaardiging verseker akkuraatheid en minimale vermorsing. Ontwerpsingenieurs skryf programme wat deur die proses gebruik word om te verseker dat elke nuwe implemente se verskillende komponent aan dieselfde hoë vlak van gehalte voldoen. Presisie tydens vervaardiging is krities vir ’n duursame implement, wat effektief werk en minimale onderhoud benodig.
Stap 3: Sweis van komponente
Die CNC-bewerkte en gebuigde dele word in die sweisafdeling saamgevoeg met pasrame (jigs) om ’n akkurate produk met strukturele integriteit te verseker. Elke taak word deur ervare voormanne gekontroleer om te verseker dat die raamwerk maksimum rigiditeit het vir jare se betroubare diens.
Stap 4: Skottels, tande en rollers
Komponente soos skottels, tande en rollers word voorberei en geverf voordat al die komponente van die implement aanmekaar gesit word. Die verfproses sluit twee lae onderlaag en twee lae Agrico-groen verf in om nie net ’n netjiese afwerking te verseker nie, maar ook die implement te beskerm teen roes.
Stap 5: Finale samestelling
Al die komponente word bymekaar gevoeg om ‘n voltooide implement te lewer. Rollers en ander bewegende dele word geïnstalleer en gekalibreer volgens spesifikasies vir optimale werking. Voor dit die fabriek verlaat, word elke implement deeglik getoets en geïnspekteer om seker te maak dit voldoen aan die nodige standaarde.